Tuisblad

Geliefde Volksgenoot,

Die geloftes (van Riebeeck, Bloedrivier en Paardekraal) van ons voorouers word geskets in die reeks prente hierbo. Regdeur die geskiedenis sien ons die geloofs-ankers en geloofsdade van ons voorouers. Deur die beskikking van ons Hemelse Vader het ons Europese voorouers hulle gevestig hier aan die suidpunt van Afrika. Hulle was diepgelowige mense wat die Bybel as enigste riglyn vir hul lewens gebruik het. Hulle was deurentyd daarvan bewus dat hulle lotgevalle en lewens in die Hand van ons Hemelse Vader was. Dit sien ons in die geloofsbenadering en geloftes van ons voorouers.

Die kern van die 1654 gelofte van Jan van Riebeeck is dat ons as nageslag sal onthou dat ons Hemelse Vader ons voorouers hier aan die suidpunt van Afrika gevestig het. Met die 1838 gelofte van Bloedrivier het ons voorouers onderneem om vir ons Hemelse Vader 'n volk te wees soos Hy dit verkies, en met die 1880 gelofte van Paardekraal het ons voorouers onderneem om in liefdevolle broederskap te leef.

Die geestelike karakter van ons volksgeloftes weerspiëel die liefdesgebod van Christus soos vervat in Mat 22:37-40. Hierdie volksgeloftes bly van krag regdeur elke generasie en bied 'n vaste basis vir die volksbestaan. Vandag is ons as volksgenote versprei regoor die aarde en betrokke op verskeie fronte, waar baie 'n positiewe bydrae maak in die organisasies, groepe en gemeentes waarvan hulle deel is. In die sigbare geloofsvrugte wat elkeen van ons daagliks dra, moet ander ook die geloftes kan raaksien. Ons lewens moet daagliks getuig van ons eerbied vir ons Hemelse Vader, ons liefde vir ons Verlosser, ons gehoorsaamheid aan die Heilige Gees, ons liefde vir mekaar, en ons respek vir die skepping.

Na die volksvegadering van September 2009 te Vegkop gee die Geloftevolk Koördineringskomitee (GKK) aandag aan die besluite aldaar geneem, waarvolgens ons as Geloftevolk se vrywordingsproses geskoei sal wees op ons volksgeloftes. Die outentieke Gelofte van Bloedrivier vereis die stigting van ‘n Huis waar dit ons Hemelse Vader behaag, wat binne Bybelse terme neerkom op die totstandkoming van ‘n Teokrasie, waarvan ons kan lees in ons Bybels in Jes. 18 en Sef. 3, oor die land anderkant die riviere van Kus (Suidelike Afrika).

Volksgenote word aangemoedig om ons ryke volksgeskiedenis te bestudeer sodat die kindertjies se vrae beantwoord kan word. Hierdie webblad bied aan u as volksgenoot al die verslae en besluite vanaf die 2009 volksvergadering. Laai gerus die dokumente in PDF formaat af vanuit die verskeie kategorieë. Mag dit vir u ook van groot waarde wees, en mag ons Hemelse Vader u seën waar u uself huidiglik op die aarde bevind.

Seëngroete en vrede vir u in die Naam van ons Koning, ons enigste Saligmaker en Verlosser.

Geloftevolk Koördineringskomitee