Beleid

Ons voorouers het sware vervolging voor en tydens die Hervorming in Europa deurgemaak en het deur die beskikking van ons Hemelse Vader na suidelike Afrika gekom en hulle hier gevestig. Die Hervormde/Gereformeerde Christelike geloof is deur ons voorouers uit onder andere Nederland, Duitsland, Frankryk, Denemarke en Engeland saamgebring na Suid-Afrika.

Vanaf die vroegste tye het die Bybel aan ons voorouers die vaste grense gebied, waaraan ons huidige volkslewe ook gemeet moet word. Die Nederlandse Statenbijbel was in die wa-kiste van die Voortrekkers, en was vir ons voorouers die verwysingsraamwerk en inspirasie tydens die Gelofte van Bloedrivier. Ons voorouers het uit daardie ou Bijbels ons Hemelse Vader leer ken, wat hulle by Bloedrivier verlos het van die agressors. Die Woord van ons Hemelse Vader wat hulle nodig gehad het vir daardie stryd was genoegsaam, en uit daardie Nederlandse Staten Vertaling het ons vandag die 1933/53 Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Die beleid van die Geloftevolk was van die begin af geskoei op die geskrewe Woord van ons Hemelse Vader, soos vandag verwoord in die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling van die Bybel. Hierdie vertaling bly steeds genoegsaam vir ons om oorwinnend die stryd te kan voer op alle lewensterreine. Dit bied die vaste basis van ons ganse volksbestaan, tot so 'n mate dat alle aspekte van ons volkslewe en aktiwiteite binne die gebooie, wette, insettinge en verordeninge van die Woord van ons Hemelse Vader kan plaasvind, sodat ons liefde vir ons Hemelse Vader so vir die wêreld sigbaar sal wees.

Ons volksgenote word versoek om toe te sien dat die Bybel intensief bestudeer word. Om 'n voller begrip van die diepte van ons Bybels te verkry, word volksgenote aangemoedig om die oorspronklike Aramese, Hebreeuse en Griekse karakter van die Bybel beter te leer ken. Herders in ons volk ken hierdie algemene begrippe vanuit hulle verskillende kweekskole, bv. (Karakters: Christus, Abraham, Moses, Dawid. Die Heilige Name: JHWH, Jahshua Messias, Ruach Kodesh, Begrippe: Urim en Tumim, Sabbat, Tabernakel van Moses, Minorah, Gebruike: Vas, Salwing, Tiendes, Doop, Brood, Wyn, Egipte, Babilon, ens.).

Die antieke gebruike en wat hulle op daardie tyd in die geskiedenis in wese beteken het, help ons om die Bybel in konteks beter te verstaan. So sien ons byvoorbeeld duidelik die Saligmaker en Verlosser figureer regdeur die Tabernakel van Moses. Die Tabernakel was in die fynste besonderhede beskryf, reeds 1,500 jaar voor die geboorte van die Messias, wat Hy kom bekragtig het Hy met Sy Bloed deur die voorhansel te skeur.  

Die ganse Bybel vorm 'n perfekte geheel om tot genoegsame kennis van die waarheid van die Woord te kom. Uit die konkrete karakter van die Hebreeuse taal verstaan ons die vaste begrippe van die gebooie, wette, insettinge en verordeninge beter. Uit die abstrakte karakter van die Griekse taal verstaan ons die vloeiende begrippe soos liefde, geduld, vriendelikheid, lankmoedigheid, ens. beter. In die Hebreeus en Grieks lê opgesluit die wigte en teenwigte ("checks en balances") wat ons Hemelse Vader ingebou het teen die vervalsing van die waarheid en die Antichris wat aan die kom was in die wêreld. Volksgenote word aangemoedig om die konkordansies en Bybel rekenaar programme soos E-Sword te gebruik in u persoonlike, gesin en familie Bybel studies. Kontak gerus die GKK indien U van die Bybelprogramme benodig, of spesifieke Bybels soos die 1611 King James, Nederlandse State Vertaling, ens.

Laai gerus die verskeie referate af oor die onderwerp van Bybelvertalings.

(Bybelvertalings.pdf - In proses om op rekenaar gestel te word.)