Raak betrokke

'n Beroep word op volksgenote gedoen om meer betrokke te raak by geliefdes en ander volksgenote, vir mekaar te bid en mekaar te ondersteun. Sodoende kan elkeen van ons meer aktief deel raak van die oplossings, deur die probleme te bestry. Daar bestaan werklik baie wat gedoen kan word om al die uitdagings die hoof te bied, in die verskillende organisasies, groepe en gemeentes waar ons volksgenote betrokke is. Elke volksgenoot word aangemoedig om 'n groter verskil te maak by die instellings waar hy/sy aktief is. Ons Hemelse Vader het elkeen van ons toegerus met spesifieke gawes en vaardighede om Sy Koninkryks-werk te kan doen.

Volksgenote word bemoedig om hierdie werk met groter ywer te doen waar u tuis voel en assosieer. Vanuit ons volksgeloftes, is dit vir elke volksgenoot noodsaaklik om ons Hemelse Vader deur gebed uit te nooi, om in groter krag, betrokke te wees by die sake waarin u werksaam is, sodat daar deur Sy Krag meer oorwinnings in hierdie duister wêreld sal wees. U is die persoon wat ons Hemelse Vader se verteenwoordiger is waar u ookal gaan. Laat Sy Lig deur u skyn, sodat die duisternis kan wyk!

Kom ons deel weer met mekaar ons liefde, tyd, kennis en ondervinding. Volksgenote word ook versoek om met u geliefdes die suksesverhale te deel, sodat ons mekaar so kan opbou en bemoedig. Suksesverhale wat getuig van hoe die oorwinnings behaal is, en hoe die uitdagings die hoof gebied is. In suksesverhale sien ons die resepte waarin vaardigheid, taktiek en strategie opgesluit lê. So kan ons van mekaar leer, en minder foute maak wat ons nie kan bekostig nie.

Liewe volksgenote, kom ons stap die geloofspad van oorwinning saam, met die oog gerig op die Ewige Koning.