Wie is ons

Die Geloftevolk is daardie volk wat gekenmerk word en gebonde is aan ons Hemelse Vader by wyse van die Skrifte en die daaropvolgende geskiedenis, en ook weens die volksgeloftes wat sedert volksplanting aan die suidpunt van Afrika tot stand gekom het, nl. die Geloftes van: Van Riebeeck [1654]; Bloedrivier [1838] en Paardekraal [1880].

Hierdie kenmerke beskryf ons eie unieke identiteit. Hierdie identiteit verenig ons as volksgenote, in ons diepste wese met mekaar en ons Hemelse Vader. In teenstelling hiermee werk daar baie magte en kragte wat ten doel het om ons volk te verdeel deur ons identiteit te vernietig. Net soos u vingerafdrukke onlosmaaklik uniek is aan u eie identiteit, so is ook ons volksgeloftes.

Ons eie unieke identiteit en karakter lê juis opgesluit in die feit dat ons voorouers hulleself aan ons Hemelse Vader verbind het deur hulle ondernemings. Vanaf antieke tye het ons Hemelse Vader hom aan Israel verbind. Daardie verhouding het egter deur die eeue skade gelei deur Israel se ongeregtighede en gesindheid. Ons het as volk hier in donker Afrika, van ons kant af uitgereik na ons Hemelse Vader, en ons verbondenheid aan Hom deur ons geloftes bevestig. Deur die geloftes het ons voorouers die Heilige Naam van ons Hemelse Vader oor ons as volk uitgeroep, voor die oë van die wêreld. Hierdie volksgeloftes is van krag by elke volksgenoot se geboorte en verklaar onomwonde die persoon se spesifieke verbintenis aan ons Hemelse Vader. In die diepste wese van die geloftes lê daar opgesluit 'n groot deel van ons verantwoordelikheid teenoor ons Hemelse Vader en mekaar. Ons het as volk in ons geloftes waarlik belowe om ons Hemelse Vader in sy volle Wese en mekaar lief te hê.

Vandag bestaan geen ander volk op aarde met hierdie spesifieke geskiedenis, karakter en eienskappe nie. Regdeur ons volksgeskiedenis sien ons hoe ons volk gestaan het op die vaste platvorm van die geloftes, en sal ons ook sien hoe dit vormend op ons nageslag inwerk.

Elke volksgenoot, as broer en suster, word hiermee herinner om ons verantwoordelikheid teenoor ons Hemelse Vader en mekaar na te kom in terme van ons volksgeloftes. U word bemoedig om dapper die geestelike stryd te stry hier aan die suidpunt van Afrika, waar ons geplant is deur ons Hemelse Vader. Stry die stryd op elke gebied, in krag en waarheid, in liefde en geregtigheid, en laat so die lig van die Ewige Gesalfde in hierdie duister wêreld skyn! Ondersteun mekaar en stry hierdie geloofstryd moedig en dapper, want die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt. 16:18b).

Laat ons dan saam volhard in die wedloop wat voor ons lê, met die oog gevestig op Jahshua Messias (Jesus Christus), die Leidsman en Voleinder van die geloof. (Heb. 12:1-2)