Die woord "konsilie" (council) verwys na "raadsvergadering". In die Bybel lees ons van die eerste raadsvergadering binne volksverband by die Tabernakel, in Moses se tyd, 3500 jaar gelede. Dit was die eerste gemeente van gelowiges, die eerste "kerk", met 70 oudstes as ouderlinge, en die Tent van Samekoms as die eerste "kerk" gebou. Die orde reëlings was die "Weg" wat ons Hemelse Vader aan Moses bekend gestel het, waarvan Johannes die Doper getuig het en Jahshua Messias (Jesus Christus) finaal bekragtig het met Sy Bloed aan die vloekpaal, Opstanding en Hemelvaart. Hiervan het 'n menige Bybelstudente getuig oor die laaste paar eeue.
Na die Hemelvaart het die 12 apostels en 120 dissipels die kerk regering gevorm en lees ons van die eerste raadsvergadering in Hand. 1:13-26. Vandaar is deur die geskiedenis raadvergaderings gehou. Slegs sommige van die besluite is aan ons bekend vandag. Die besluite aldaar geneem was die boublokke waarmee die kerk gebou was. Ons weet vandag dat nie alles wat as Christelik beskryf word die ware karakter van Christenskap bevat nie. Ons volksgenote smag na 'n rein liefdevolle lewe saam met ons Hemelse Vader, en alle besoedeling behoort by ons verwyder te word. Baie volksgenote het deur Bybelstudie en studie van die geskiedenis van die antieke tyd tot nou, deur die Krag van die Gees van Waarheid, (Joh 14:17) sake tot op die been begin gesny om te verstaan.
Die behoefte het al jare bestaan in ons volksgeledere dat geestelike vrae en kwelpunte aangespreek moet word. Onbeantwoorde vrae sluit onder andere in: geskiedenis rondom Bybelvertalings, verdraaiing van Bybel profesieë, invloed van die Rooms-Katolieke Kerk, Roomse aspekte wat die Hervormers nie afgeskud het nie, sekere moderne liberale kerk uitgangspunte, uitgangspunte van verskeie ander Afrikaanse geloofsgroeperinge, nuwe hervorming teologie, aanwending van tiendes deur die kerke, versluiering van kerkbestuur, manipulasie deur kerkrade, opleiding van predikante, teksvers preke teenoor onderwerp preke, teologiese uitgangspunte, ens.. As gevolg van die geweldige vervolging tydens die Hervormingstydperk kon die Hervorming in alle aspekte nie volkome deurgevoer word nie. Ter uitklaring van die kwelpunte neem volksgenote neem deel hierdie debatte tydens die konsilies.
Ons is dankbaar dat ons nie meer ten gronde hoef te gaan, as gevolg van 'n gebrek aan kennis nie (Hos. 4:6). Laai gerus die besluite van die konsilies vanaf 2013 hieronder af, en laai gerus die pragtige foto af van die dubbel reënboog wat geneem is om 17h00 net na die einde van dag 1 se debatte by die 2013 Konisilie van Majuba.
Ps. 97:1 JHWH (die HERE) is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees! 6 Die hemele verkondig Sy geregtigheid, en al die volke sien Sy heerlikheid.