Strafgerig

Dit gaan toenemend slegter aan die suidpunt van Afrika; grondonteiening, beurtkrag, stakings, wanorde in die parlement, korrupsie, swak leierskap, tuimelende infrastruktuur, finansiëele onvolhoubaarheid, kapings, roof, moord, verkragting, ontug, drankmisbruik, noem maar op. Gruweldaad op gruweldaad word gepleeg, sonder dat iets gedoen word wat werklik resultate oplewer. Ons volkgenote staar daagliks die dood in die oë.

“Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie.” (Amos 5:2) Dit voel dikwels asof ons Hemelse Vader Hom nie meer oor ons wil ontferm nie. Hy is tog die Beskikker van Volke en Nasies, en Hy sluimer nie, en Hy slaap nie. Ons huidige situasie getuig van ‘n strafgerig waaronder ons verkeer. Ten spyte van godsdienstigheid gaan ons volk ten gronde (Hos.4:6). Onder soortgelyke omstandighede het Amos ‘n klaaglied aangehef. Hy het egter ook ‘n oplossing voorgehou: “Soek die HERE (JHWH), dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos ‘n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie. “ (Amos 5:6).  

Ons as Geloftevolk het ons geloftes versaak, en ook afgedwaal van die verordende weë wat die Bybel voorhou, en daarom dat ons nou ten gronde gaan en al die werke van ons hande verwoes word. Lees ook Lev. 26:14-25, Pred. 5:3-5. Eseg. 33:11 “ ... Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel? ”

Strafgerig is 'n welbekende begrip wat ons leer uit ons Bybels se ou en nuwe testamente. Vandag wil die moderne mens nie daarvan hoor nie - "Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?" (Job 22:13)  Vrees en respekteer God wanneer Hy tugtig - "Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE (JHWH) dit nie bewerk het nie?" (Amos 3:6)

Lees gerus die hele Jes. 10:1-21; "Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof ‘n staf húlle swaai wat hom ophef, asof ‘n stok hóm ophef wat nie hout is nie! Daarom sal die Here HERE van die leërskare onder sy vettes ‘n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy ‘n brand laat uitslaan soos die brand van vuur. En die Lig van Israel sal ‘n vuur wees, en sy Heilige ‘n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag. En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe."

Lees ook in Deut 28 oor die beginsels van seëninge en vervloekinge, wat verband hou met die gehoorsaamheid van die volk aan die HERE (JHWH).

2Kron. 7:13-14 "As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees."

Die Bybel is vol voorbeeld in die ou en nuwe testamente dat ons onsself moet bekeer van alle ongeregtigheid en verkeerde weë. Indien ons omdraai en terugkeer na ons Hemelse Vader sal ons weer Sy beskerming en seëninge geniet. Hiermee word 'n beroep gedoen op volksgenote om toe te sien dat daar diepe erns van hierdie saak gemaak word.

Die volmag lê by Jahshua Messias (Jesus Christus) en dit is Sy besluit of u seëninge, verlossing, tugtiging of straf sal beleef. Wees asseblief dan ywerig in u bekering en heiligmaking. 

Heb. 12:6: "want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem."   Op. 3:19: "Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou."